Copyright 2017 - Hoërskool Parys, die skool met 'n hart

Kultuur

Die skool se kultuurlewe is baie gesond en 'n groot verskeidenheid aktiwiteite word aangebied.

     

• Mnr. en Mej. Hoërskool
• Musiekblyspel
• Koor
• Kunswedstryd
• Redenaars

• Voortrekkers
• Skaak
• Zoemkie (skoolkoerant)
• Dans

•VCSV
•Talentfees
• Drama
• Groentjiekonsert

 
 
 

REDENAARS

Drie leerders het na afloop van die Noord- en Oos-Vrystaat Redenaarsuitdunne deurgedring na die Vrystaat-finaal van die ATKV-redenaarskompetisie..

LEES VIR 'N VALE

Graad 8-10 leerlinge van Hoërskool Parys het aan die ATKV boekelees-kompetisie deelgeneem.  Elkeen moes 10 tienerboeke lees en dan vir die beste een moes stem. Die skool is weer aangewys as een van die wenskole met die meeste kinders wat gelees het en wen hiermee ’n  R700 geskenkbewys vir boeke van Lapa Uitgewers. Die mini-biblioteek in die Afrikaanse klas word elke jaar groter en al meer leerlinge kom neem boeke uit om te lees. Die boek wat vanjaar aangewys is as die wenner was “Liefde is ’n  sprokie” deur Santie Nel.

Nasionale Afrikaanse Ekspo

Hoërskool Parys het weer aan die Nasionale Afrikaanse Ekspo se elektroniese skolekompetisie deelgeneem. Dié kompetisie bied ’n kreatiewe uitdaging vir leerlinge en vanjaar was die oorhoofse tema “Afrikaanse Films”.
Leerders en onderwysers het baie hard gewerk en altesaam 131 inskrywings ingestuur. Die werke is net op nasionale vlak beoordeel. Daarvan het 37 inskrywings ’n goue toekenning verwerf terwyl daar 62 silwer- en 15 bronstoekennings ontvang is.
Leerlinge van Hoërskool Parys was boonop die nasionale wenners in vyf kategorieë.

Die graad 11 en 12 uitblinkers saam met hul onderwysers is voor van links mev. A. Greyling, Liebe Keyser (3 goud, 1 silwer, 1 brons), mev. E. Fouché, Amoré Kok (4 goud, 6 silwer en 1 brons) en mev. L. van Schalkwyk. In die tweede ry van links is Liza Taljaard (2 goud, 1 silwer), Carla Pretorius (1 goud), Danika Groenewald (1 goud, 3 silwer), Michael Taljaard (3 goud, 4 silwer), Annemarie Marais (1 goud, 1 silwer), Tasneem Goga (1 silwer, 1 brons) en Gabrielle Hawthorn (1 silwer). Agter is Chane Pelser (2 goud, 1 silwer, 1 brons), Elzë du Plessis (1 goud, 1 silwer), Monique Béqué (1 goud), Brendan Brits (1 goud, 1 silwer, 1 brons), Melissa van Niekerk (2 silwer), Andrushka van der Merwe (1 silwer), Jani Keet (1 silwer) en Suzaan Janse van Vuuren (1 brons). Megan van Eck (1 goud, 1 silwer) en Lesego Modiselle (1 silwer) was afwesig.

In die kategorie kortverhale graad 12 het Chané Pelser gewen. Cara Erasmus was die wenner in die kategorie beskrywende opstelle graad 10, terwyl Elzé du Plessis die wenner in graad 11 was. Lialma Sinclair was die graad 10 wenner van verhalende opstelle en Lana van Zyl die wenner van die graad 10 strokiesverhale.
Hierdie is uitstekende uitslae en ‘n bewys daarvan dat plattelandse skole selfs op nasionale vlak met topskole kan meeding en hulle uitstof.

 

5 NASIONALE EKSPO WENNERS

Hoërskool Parys het nie minder nie as vyf nasionale wenners vir die Nasionale Afrikaanse Ekspo se elektroniese skole-kompetisie opgelewer. Die kompetisie bied ’n  kreatiewe uitdaging vir leerlinge en vanjaar was die oorhoofse tema, “Afrikaanse films”.
Chané Pelser wen die kategorie vir kortverhale graad 12, terwyl Cara Erasmus die wenner was in die kategorie vir beskrywende opstelle graad 10 en Elzé du Plessis die graad 11 wenner in dieselfde kategorie.
Lialma Sinclair was die graad 10 wenner van verhalende opstelle, en Lana van Zyl die wenner van die afdeling vir graad 10 strokiesverhale.
??????????????????????????????????Lana van ZylLialma SinclairCara ErasmusChane Pelser, Lana van Zyl, Lialma Sinclair, Cara Erasmus en Elzé du Plessis.
 
 
 
EISTEDDFOD - SANG
Tydens die onlangse Kroonstad Eisteddfod het Hoërskool Parys se sangers behoorlik uitgeblink met uitmuntende prestasies. Hulle is Thuli Tokwe (2 A++ kategoriewenner en A+), Paballo Molete (2 A++ en A+), Annemarie  Marais (2A++, A+ en A), Liza Taljaard (2 A++ kategoriewenner en A+), Marné Prinsloo (3A++ en A+), Lialma Sinclair (2A++ kategoriewenners en A) en Ajay van Tonder (A++ en 2A+).

 

Take Note sanggroep

Die sanggroep Take Note het Die dogterskoor het in die afgelope jaar, 2011, groot welslae behaal in twee kompetisies waaraan hulle deelgeneem het. 

 

Redenaars - 2011

Tydens die ATKV-redenaars streeksuitdunne van Suid-Gauteng het agt leerders deelgeneem.  Drie seniors, Fralize Fouché, Tanya Smit en Yolaine Blomerus het deurgedring na die Suid-Gauteng finaal. Die redenaars word afgerig deur mevv. E. Fouché en C. van Zyl.

 

Voortrekkers - 2011

Die Voortrekkers het 'n besondere besige paar kwartale agter die rug en daar was verskeie geleenthede waar hulle meer kon leer oor 'n sekere onderwerp en dan ook 'n kenteken daarvoor verwerf. Die jaar het afgeskop met Tanya Smit wat tot die bestuur van die Gebiedsjeugraad verkies is.  Slegs ses Voortrekkers uit die Vrystaat word op hierdie bestuur verkies.  Die jaarlikse GGA-naweek (Gebiedsgoedgekeurde Aktiwiteite) het op 13 en 14 Mei plaasgevind waar kinders van al die kommando’s in die omgewing bymekaargekom het om ‘n spesialisasie-kenteken te doen.  Die Verkenners het seremonies gedoen en daar is vlae gehys en gestryk en gemarsjeer vir ‘n vale en tussendeur is daar ook ‘n bietjie teorie gedoen.  Vanaf Vrydag 27 Mei tot Sondag 29 Mei was dit weer tyd vir die jaarlikse kommandokamp.  Die kamp is vanjaar op Baskop in die Koepel gehou en die wat dit bygewoon het, het baie pret gehad.  Daar is onder andere ‘n nagmars gehou, gestap, kleilat gegooi, geverf en boeresport gehou.  Baie dankie aan die Gr.11-Verkenners wat die kamp beplan en aangebied het, julle het julle uitstekend van julle taak gekwyt!

 
Boomplantdag

Op 16 September 2011 het ons Boomplantdag gevier en daar is vyf witstinkhoutbome geplant op die skool terrein.  Daar is besluit op die witstinkhout omdat die boom van die jaar, die Dooppruim, baie moeilik in Parys sal aard.

 

VCSV

Elke Donderdag by Hoërskool Parys word 'n spesiale pouse gehou. Die VCSV – pouse. 'n Spesiale pouse wat langer as normaalweg is, sodat die leerlinge hul Christelike-padkos vir die week kan kry. Die VCSV het dikwels sprekers wat oor probleme praat waarmee leerlinge elke dag gekonfronteer word. Positiewe gesprekke om die leerling te bemagtig met lewensvaardighede, wat nodig is om 'n sukses van hulle lewens te maak word ook gehou. Die VCSV probeer om ten minste een keer 'n jaar saam te kamp. Die kernfokus van die VCSV by Hoërskool Parys is steeds dat ons leerders in 'n lewende verhouding met die Here Jesus Christus wil intrek en hulle verder begelei na geestelike volwassenheid!

 
PATRYSKUIKEN GROENTJIE KONSERT

Elke jaar word die Gr 8 orienteringsprogram op ’n hoë noot afgesluit met die Patryskuiken-groentjiekonsert. Hierdie jaar het elke Patryskuiken (Gr 8-leerder) meegedoen aan hierdie konsert en hul rolle met hart en siel vertolk.
Al die graad 8-leerlinge, oftewel Donsies, het deelgeneem en Hoërskool Parys se konsert het gesorg vir vermaak uit die boonste rakke!  Die graad 8-leerlinge is na afloop van die konsert, plegtig ingelyf as volwaardige Patrysies en ons hoop hulle sal vorentoe wys dat hulle hul “vere” verdien het! Hierdie konsert is jaarliks vir elke Gr 8-leerder ’n onvergeetlike ondervinding.

Die president van Patrys en sy kabinet wat vandag die toekomstige graad 8 leerlinge by Hoërskool Parys verwelkom het.

 

Skryfkuns

Die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gee jaarliks aan leerders wat die vorige jaar in graad 10, 11 en 12 was, regoor SA die geleentheid om hul beste letterkunde bydraes in te skryf vir die boekie Poort.  Vir die tweede agtereenvolgende jaar is daar van Fralize Fouché se werk in die boekie opgeneem.  Hierdie jaar is daar ‘n gedig en prosastuk gekeur.  Benewens die prestasie is sy een van slegs 9 leerders in die land wat gekeur is om aan ‘n SLYPSKOOL in Bloemfontein deel te neem op 11 en 12 Julie.  Dit word onder andere aangebied deur Christine Barkhuizen le Roux.


Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging in samewerking met NALN bied die afgelope 32 jaar 'n skrywerskompetisie aan. Fralize Fouché het vanjaar vir 'n verrassing gesorg deur die wenner van die senior skole-afdeling en ook die algehele skolewenner op te lewer – sodoende verower Hoërskool Parys vanjaar twee wisseltrofeë. Sy word ook uitgenooi om 'n slypskool op 20 Augustus gratis by te woon en haar skryfstuk sal in 'n nuwe bundel Inkvars 2011 gepubliseer word. Baie geluk, Fralize, ons het nie woorde om te sê hoe trots ons op jou is nie!

Hier onder volg die twee prosa stukke en gedig geskryf deur Fralize Fouché:

Buite die ligkring

Die mens swoeg en sweet

val in sy eie kou

krom en stom

deur sy eie laste -

“Alles kom tot niks,” sê die Prediker, “tot niks.”

En Amy het verstaan.  Die mens kom die wêreld binne, word in sonde gebore tot duisternis. Hy word groot in 'n kleurlose wêreld vol versoekings wat op die ritme van 'n verleidelike salsa sy siel, stukkie vir stukkie, versondig.  As grootmens klee hy sy naakte, skaam gevoel met munte;  note bedek sy swaksinnigheid.  Die oneindige  gapende gat in sy hart word nag na nag gevul deur Dionysus en plesier – net om met sonsopkoms leër te voel as ooit.   Verslawings is vryheidsvlerke, maar realiteit is 'n ketting wat hom gevange hou. Dan, wanneer die flambojante fleur van die jongmenslewe verby is, haal die ongenaakbare waarheid hom in.  'n Waarheid wat die mens se kaarthuisie-bestaan laat skud en in duie stort:  van stof is ons en ons word dit weer.  Die son kom op.  Die son gaan onder.  Die lewe gaan ongesteurd voort.

Amy ken die duisternis – sy verstaan dit.  Sy was die tipiese victim van die tye – deur Pappa geslaan, deur haar oom gemolesteer... Sy was 'n wegloopkind – alleen in die donker.  Sy kam met haar rooi naels deur haar gitswart hare, trek haar toppie 'n bietjie laer af.  Sy is nie meer die bang, wegloopkind van soveel jare gelede nie.  Amy sit haar mooiste glimlag op vir haar beste  customer – Harold Porter - die man met die duur-Whisky-asem.  Die duisternis, weet sy, is 'n doodsmare aan die vele pionne wat 'n verkeerde skuif gemaak het.  Kriminele en prostitute, soos syself, dwelmverslaafdes en bankrowers kom vanuit hul skuilplekke in die skadu’s en dans nog 'n nag na Sodom se pype.  Amy sien nie die sterre nie – daar is nie – net liggies in die woud van beton, waar 'n ander jagter koning kraai.

Patience, ook 'n wegloopkind, het Amy die trade geleer.  Amy kon haar Pat noem, maar die mans wat deur hul alleenheid geteister word, kon haar noem net wat hulle wou – solank hulle net betaal.  “Onthou, my skat,” sê Pat in haar lui, donker stem, “rooi naels is 'n must-have!”  Pat glimlag terwyl sy haar eie kloue bekyk.  Die son het opgekom en die son het gesak.  Steeds was alles niks. Nutteloos:  soos riviere wat hulself in die see leegmaak – voortdurend, aanhoudend – al word die see nooit vol nie.

Pat het gekwyn, haar rooi naels het dowwer gelyk, haar ribbebene was lang vingers oor haar maag. Sy leef skaars 'n jaar langer.  Is dit hoe die ARV’S sy  job doen? 

Amy het 'n jaar later 'n ou karabyn teen haar hoof gelig en, in 'n stortvloed van rooi, haar eie lewe verkwis.

Toe Harold Porter, ’n voorstaande sakeman wat gereeld geteister word deur sy alleenheid, en die res van Suid-Afrika lees van die jong prostituut wat selfmoord gepleeg het, het hulle net die koerant toegemaak. Hulle het net vergeet.

Skatte verdoof gedagtes en die blink van 'n mes stil jongmens-drome.  Gebede, vasgevang teen plafonne, word vergete ideale.  'n Gekerm word op die stadsplein gehoor – 'n geween en groot gejammer.  Innocence soek haar kinders, maar hulle is nie meer daar nie.  Hulle is ingesluk, verdelg deur die duisternis.  Hulle is net nóg 'n statistiek – bloot net nog 'n victim van this modern day and AIDS. 
  

Soos 'n leeuwyfie strek sy haarself uit teen die donker horison.  Gereed.  Gevaarlik.  Gewillig om te slag.   Sy’t honderde minnaars wat haar naam bloeddorstig fluister:  “Hillbrow...”

Die son gaan onder -

stof word stof;

die mens gaan die wêreld uit:

dieselfde.  Nakend –

kaal, in hul ellendige

alleenheid.

Parfuum
Darling, vang die reën-reuk
nes 'n vlinder in jou net
Gryp gou gebede en wense
teen die plafon van elke dak
Dan maak ek en jy parfuum!

Vul ons eie pragfyn botteltjie:
treurige dae se reënboogbeloftes
van die diamantdou van verlore onskuld
'n knypie van 'n kind se glo en verstaan,
als deurmekaar, sommer net, aanmekaar geflans.
'n Druppeltjie jakkals-wolf-se-vrou-glimlag
en die warm sonsmaak op jou lippe!
Gooi dit alles sommer maar net saam

Kom! Ons vryf dit teen ons polse
tik-tik agter ons ore
soos in 'n old time movie...

Ons treffernaam: Je T’aime – 'n topverkoper!
Almal tik-tik dit agter hul ore
Almal vryf-vryf dit teen hul polse
En dan, Darling?

Dan ruik die mensdom ten minste na
dit wat ons elke dingese dag mis

Vlamme brand haar nie
Opgedra aan Sheila Cussons

Die kamer swem.  Geluide vervaag, verdwyn dan.  'n Vae eggo ontplof - 'n ster in die hemelruim deurboor my. 'n Vuur, bloeddorstig, gulsig, lekkend, omwentel en deurdring my spartelende liggaam.  

My oë - sonder wimpers - fladder oop nes die vlinders waarna ek altyd in die parkie gaan kyk het - vaagweg bewus deur die beswyming van ’n kloppende, tartende pyn.  Die bloedplasma- en soutwatersakke drup-drup.  Die kamer is wit;  blomme hier en daar.

’n Verpleegster probeer my blasé aankyk en faal om die afgryse op haar ongeskende gesig te verbloem. Sy probeer iets verduidelik, stamel effens oor haar woorde.  Ek luister nie. Ek hoor nie.  Sy bring ’n spieël nader en sy lig dit huiwerig op.  Ek weet wat ek moet sien:  ’n pragtige mensie, met krullerige blinkswart hare wat wriemel in die wind.  Lippe getem deur 'n paar romanse en grys oë soos 'n jakkals-trou-met-wolf-se-vrou-wolkie.  In die spieël blink dié oë nie.  In die spieël gil lippe wat nie myne kan wees nie.  Die gedrog gil en gil en gil - onbewus van ’n bittersoet naald wat my saggies in ’n droomlose slaap se hande vou.

Tog bly 'n herinnering spook: 'n verbrande, swart kombuis, vlamme soos honger wolwe en verskietende vensters...pyn. Onherroeplik, onsamehangend – onverstaanbaar - onwrikbaar seer!  

“Maria... Moeder...”  Ek prewel-smeek soos ’n klein dogtertjie, soos ’n onderdanige brak wat ’n lekseltjie kos wil hê of 'n druppeltjie water in die hel.  Deurskynende trane blink gitswart op my vel. Genoeg!  Ek het genoeg gesmeek en gebid en gekruip op my swart en verbrande knieë.  Genoeg!  Hoe laat 'n liefdevolle God hierdie pyn toe?

*


Vraatsugtige vlam-wolwe vreet genotvol my vingers af, vernietig my oë se blink, versmoor my lippe se lag. ’n Duisend swepe brandmerk my siel. Dood is onweerstaanbaar... tog onbereikbaar. Dis blykbaar 'n té groot genade al ontsnap sagte smeekgebede my mond. Ek het ophou bid. Dit was óf die rook se rou krapmerke in my keel óf die feit  dat ek myself oorgee aan die pyn se genadelose gil. En my wêreld, buite die pyn, word stil, word niks, hou op bestaan.

*

Terwyl ek teen die herinneringe veg, ’n man hou my stilswyend dop, Hy sê niks nie.   Sy mondhoek krul van uiterse pyn en sy oë blink van ’n verskriklike akkoord – sterre waarmee ek die hemel oop kan knoop.

 “Filia – my dogter,” sy Stem is 'n bruisende watermassa.   Ek voel weer vlamme binne my brand.  Vlamme wat opbou in my menswees – 'n ander vlam, 'n genesende Vlam wat sagkens deur my siel dans, my wakker maak uit my eindelose beswyming...

“O God, wat is die brand in die brein en die hart wat branderder brand as die vlam aan die lyf?”

Incendio amoris mues,” fluister die Man -  “My brandende liefde...”

Ek steek my versengende, vingerlose hande uit na  sy Vuur en word uit die as van 'n vorige lewe hergebore; vervul.

“... o, my kosmiese Christus:

om jóú vir my te bevry

opdat ek jou raak sien, raak weet, raak het, en nog wag jy

dat ek moet sê, heeluit moet sê:  grýp my hande dan,

amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman...”

 

f t g m